Index: Afrikaans

 

Psalms 107

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48] [49] [50] [51] [52] [53] [54] [55] [56] [57] [58] [59] [60] [61] [62] [63] [64] [65] [66] [67] [68] [69] [70] [71] [72] [73] [74] [75] [76] [77] [78] [79] [80] [81] [82] [83] [84] [85] [86] [87] [88] [89] [90] [91] [92] [93] [94] [95] [96] [97] [98] [99] [100] [101] [102] [103] [104] [105] [106] [107] [108] [109] [110] [111] [112] [113] [114] [115] [116] [117] [118] [119] [120] [121] [122] [123] [124] [125] [126] [127] [128] [129] [130] [131] [132] [133] [134] [135] [136] [137] [138] [139] [140] [141] [142] [143] [144] [145] [146] [147] [148] [149] [150]

107:1 Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!

107:2 Dit moet die verlostes van die HERE sê, wat Hy uit die nood verlos het

107:3 en uit die lande versamel het, van die ooste en die weste, van die noorde en van die see af.

107:4 Hulle het gedwaal in die woestyn, op woeste paaie; 'n stad om in te woon het hulle nie gevind nie.

107:5 Honger, ook dors was hulle; hulle siel het in hulle versmag.

107:6 Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle gered.

107:7 En Hy het hulle gelei op 'n regte pad om te gaan na 'n stad om in te woon.

107:8 Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;

107:9 want Hy het die dorstige siel versadig en die hongerige siel met die goeie vervul.

107:10 Die wat in duisternis en doodskaduwee gesit het, gevang in ellende en ysters-

107:11 omdat hulle wederstrewig was teen die woorde van God en die raad van die Allerhoogste verwerp het,

107:12 het Hy hulle hart deur moeite verneder; hulle het gestruikel, en daar was geen helper nie.

107:13 Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos.

107:14 Hy het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat uitgaan en hulle bande verbreek.

107:15 Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;

107:16 want Hy het koperdeure verbreek en ystergrendels stukkend geslaan.

107:17 Die wat dwase was vanweë die weg van hulle oortreding en weens hulle ongeregtighede gepynig is-

107:18 hulle siel het 'n afsku gehad van elke soort voedsel, en hulle het tot by die poorte van die dood gekom.

107:19 Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos.

107:20 Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak en hulle uit hul kuile red.

107:21 Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;

107:22 en laat hulle lofoffers bring en met gejubel sy werke vertel.

107:23 Die wat na die see toe afdaal in skepe, wat handel drywe op die groot waters-

107:24 húlle het die werke van die HERE gesien en sy wonders in die diepte.

107:25 Want Hy het gespreek en 'n stormwind laat opsteek wat die golwe daarvan opgesweep het.

107:26 Hulle het opgerys na die hemel, neergedaal na die dieptes- hulle siel het vergaan van wee.

107:27 Hulle het getuimel en gewaggel soos 'n dronk man, en al hulle wysheid is verwar.

107:28 Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid, en uit hul angste het Hy hulle uitgelei.

107:29 Hy het die storm 'n gesuis gemaak, en hulle golwe het stil geword.

107:30 Toe was hulle bly, omdat dit rustig geword het, en Hy het hulle gelei na die hawe van hul begeerte.

107:31 Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders.

107:32 En laat hulle Hom verhoog in die vergadering van die volk en Hom roem in die kring van die oudstes.

107:33 Hy het riviere 'n woestyn gemaak en waterfonteine 'n dorsland,

107:34 vrugbare land 'n brak aarde, oor die boosheid van die wat daarin woon.

107:35 Hy het die woestyn 'n waterplas gemaak en die dor land waterfonteine;

107:36 en Hy het hongeriges daar laat bly, en hulle het 'n stad gestig om in te woon.

107:37 En hulle het lande gesaai en wingerde geplant wat vrugte as opbrings verskaf het.

107:38 En Hy het hulle geseën, sodat hulle sterk vermenigvuldig het, en hulle vee het Hy nie min gemaak nie.

107:39 Toe het hulle min geword en weggesink deur die druk van onheil en kommer-

107:40 Hy wat veragting uitstort oor edeles en hulle laat dwaal in 'n woeste wêreld, sonder pad-

107:41 Hy het die behoeftige beskerm teen verdrukking en die geslagte soos kuddes gemaak.

107:42 Die opregtes sien dit en is bly, maar alle ongeregtigheid hou sy mond toe.

107:43 Wie wys is, laat hy op hierdie dinge ag gee, en laat hulle let op die goedertierenhede van die HERE.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase