Index: Afrikaans

 

Psalms 37

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48] [49] [50] [51] [52] [53] [54] [55] [56] [57] [58] [59] [60] [61] [62] [63] [64] [65] [66] [67] [68] [69] [70] [71] [72] [73] [74] [75] [76] [77] [78] [79] [80] [81] [82] [83] [84] [85] [86] [87] [88] [89] [90] [91] [92] [93] [94] [95] [96] [97] [98] [99] [100] [101] [102] [103] [104] [105] [106] [107] [108] [109] [110] [111] [112] [113] [114] [115] [116] [117] [118] [119] [120] [121] [122] [123] [124] [125] [126] [127] [128] [129] [130] [131] [132] [133] [134] [135] [136] [137] [138] [139] [140] [141] [142] [143] [144] [145] [146] [147] [148] [149] [150]

37:1 'n Psalm van Dawid. Alef. Wees nie toornig op die kwaaddoeners nie, beny hulle nie wat onreg doen nie;

37:2 want soos gras sal hulle gou verwelk, en soos groen grasspruitjies sal hulle verdroog.

37:3 Bet. Vertrou op die HERE, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid,

37:4 en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.

37:5 Gimel. Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer;

37:6 en Hy sal jou geregtigheid laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag.

37:7 Dalet. Swyg voor die HERE en verwag Hom; wees nie toornig op hom wat voorspoedig in sy weg is nie, op die man wat listige planne uitvoer nie.

37:8 He. Laat staan die toorn en verlaat die grimmigheid; wees nie toornig nie: dit is net om kwaad te stig.

37:9 Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit.

37:10 Wau. En nog 'n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie; ja, jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie.

37:11 Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.

37:12 Sajin. Die goddelose bedink listige planne teen die regverdige en kners met sy tande teen hom.

37:13 Die Here lag oor hom, want Hy sien dat sy dag kom.

37:14 Get. Die goddelose het die swaard getrek en hulle boog gespan om die ellendige en behoeftige te laat val, om dié te slag wat opreg is van weg.

37:15 Hulle swaard sal in hul hart gaan, en hulle boë sal verbreek word.

37:16 Tet. 'n Klein bietjie is vir die regverdige beter as die rykdom van baie goddelose;

37:17 want die arms van die goddelose sal verbreek word, maar die HERE ondersteun die regverdiges.

37:18 Jod. Die HERE ken die dae van die opregtes, en hulle erfdeel sal tot in ewigheid bly.

37:19 Hulle sal nie beskaamd staan in die slegte tyd nie, en in dae van hongersnood sal hulle versadig word.

37:20 Kaf. Maar die goddelose sal omkom en die vyande van die HERE soos die prag van die weivelde; hulle verdwyn soos rook, hulle verdwyn.

37:21 Lamed. Die goddelose leen en gee nie terug nie, maar die regverdige ontferm hom en gee;

37:22 want die wat deur Hom geseën word, sal die aarde besit; maar die wat deur Hom vervloek word, sal uitgeroei word.

37:23 Mem. Deur die HERE word die gange van 'n man bevestig, en Hy het 'n welbehae in sy weg.

37:24 As hy val, dan stort hy nie neer nie; want die HERE ondersteun sy hand.

37:25 Noen. Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.

37:26 Die hele dag ontferm hy hom en leen uit, en sy nageslag is 'n seën.

37:27 Samek. Wyk af van wat kwaad is, en doen wat goed is, en jy sal vir ewig woon;

37:28 want die HERE het die reg lief en sal sy gunsgenote nie verlaat nie; vir ewig word hulle bewaar, maar die nageslag van die goddelose word uitgeroei.

37:29 Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.

37:30 Pe. Die mond van die regverdige verkondig wysheid, en sy tong spreek wat reg is.

37:31 Die wet van sy God is in sy hart; sy gange sal nie wankel nie.

37:32 Sade. Die goddelose loer op die regverdige en soek om hom dood te maak.

37:33 Die HERE gee hom nie oor in sy hand nie, en Hy veroordeel hom nie as hy gerig word nie.

37:34 Kof. Wag op die HERE en hou sy weg, en Hy sal jou verhoog, om die aarde te besit; jy sal met welgevalle neersien op die uitroeiing van die goddelose mense.

37:35 Resj. Ek het die goddelose gesien, 'n geweldenaar, terwyl hy hom uitbrei soos 'n groen inlandse boom.

37:36 Toe gaan iemand verby, en kyk, hy was daar nie; en ek het hom gesoek, maar hy was nie te vinde nie.

37:37 Sjin. Let op die vrome en kyk na die opregte, want daar is 'n toekoms vir die man van vrede.

37:38 Maar die oortreders word tesame verdelg; die toekoms van die goddelose word afgesny.

37:39 Tau. Maar die hulp van die regverdiges is van die HERE, hulle toevlug in tyd van benoudheid.

37:40 En die HERE help hulle en red hulle; Hy red hulle van die goddelose mense en verlos hulle, want hulle skuil by Hom.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase