Index: Afrikaans

 

Job 37

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42]

37:1 Ja, hiervoor beef my hart en spring op uit sy plek.

37:2 Luister, luister na die gedruis van sy stem en die dreuning wat uit sy mond uitgaan.

37:3 Onder die ganse hemel laat Hy dit los en sy lig oor die eindes van die aarde.

37:4 Daarna brul sy stem, Hy donder met sy stem vol majesteit en hou die bliksems nie terug as sy stem gehoor word nie.

37:5 God donder wonderbaar met sy stem; Hy doen groot dinge wat vir ons onbegryplik is.

37:6 Want Hy gebied die sneeu: Val op die aarde! Ook die stortreën, ja, sy geweldige stortreëns.

37:7 Hy verseël die hand van elke mens in die winter, sodat tot kennis kan kom al die mense wat Hy gemaak het.

37:8 Dan gaan die wilde diere in skuilhoeke en bly in hulle lêplekke.

37:9 Uit sy kamer kom die stormwind, en deur die wolkverstrooiers koue.

37:10 Deur die asem van God word ys gegee, en die wye waters lê vas in die engte.

37:11 Ja, met volheid van water belas Hy die wolke, en Hy strooi ver en wyd sy ligtende wolk;

37:12 en dit skiet oral rond volgens sy bestel, sodat hulle alles doen wat Hy hulle beveel oor die wye wêreldrond:

37:13 óf tot 'n tugroede, óf tot nut van sy aarde, óf tot weldadigheid laat Hy dit sy doel vind.

37:14 Luister hierna, o Job! Staan stil en gee ag op die wonders van God.

37:15 Begryp u hoe God hulle bevel gee en die lig van sy wolk laat flikker?

37:16 Begryp u iets van die gesweef van die wolke, van die wonders van die Volmaakte in kennis?

37:17 U, wie se klere warm word as die aarde stil is vanweë die suidewind--

37:18 kan u saam met Hom die hemel uitbrei wat vas is soos 'n gegote spieël?

37:19 Onderrig ons wat ons aan Hom moet sê: ons kan niks voorbring vanweë die duisternis nie.

37:20 Moet dit Hom vertel word dat ek wil spreek? Of het iemand ooit gesê dat hy vernietig wil word?

37:21 En nou, 'n mens kan die lig nie aansien wat helder is in die hemel as die wind verbygegaan en dit skoongemaak het nie.

37:22 Uit die Noorde kom goud te voorskyn, maar oor God is daar ontsagwekkende majesteit.

37:23 Die Almagtige--ons vind Hom nie; Hy is groot van krag, maar die reg en die volheid van geregtigheid krenk Hy nie.

37:24 Daarom vrees die mense Hom; almal wat eiewys is, sien Hy nie aan nie.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase