Index: Afrikaans

 

Job 32

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42]

32:1 Toe het dié drie manne opgehou om Job te antwoord, omdat hy in sy eie oë regverdig was.

32:2 En die toorn van Elíhu, die seun van Barágeël, die Busiet, uit die geslag van Ram, het ontvlam; teen Job het sy toorn ontvlam, omdat hy homself regverdig beskou het voor God.

32:3 Sy toorn het ook ontvlam teen sy drie vriende, omdat hulle geen antwoord gevind het nie en Job veroordeel het.

32:4 Maar Elíhu het op Job gewag met sy woorde, omdat hulle ouer was as hy.

32:5 Maar toe Elíhu sien dat daar geen antwoord was in die mond van die drie manne nie, het sy toorn ontvlam.

32:6 En Elíhu, die seun van Barágeël, die Busiet, het begin en gesê: Ek is jonk, en u is hoogbejaard; daarom was ek beskroomd en het gevrees om my kennis aan u mee te deel.

32:7 Ek het gesê: Laat die dae spreek en die veelheid van jare wysheid te kenne gee.

32:8 Maar dit is die Gees in die mens en die asem van die Almagtige wat hulle verstandig maak.

32:9 Nie die bejaardes is wys nie, en nie die oues verstaan wat reg is nie.

32:10 Daarom sê ek: Luister na my; ek wil ook my kennis meedeel.

32:11 Kyk, ek het gewag op u woorde; ek wou luister na verstandige taal van u, totdat u die regte woorde uitgevind het.

32:12 En ek het op u ag gegee; maar kyk: daar was niemand wat Job weerlê het nie, niemand van u wat sy woorde beantwoord het nie.

32:13 Sê maar net nie: Ons het wysheid aangetref, God alleen kan hom verslaan, geen mens nie.

32:14 Teen my tog het hy geen woorde ingebring nie; en met u redeneringe sal ek hom nie beantwoord nie.

32:15 Hulle staan verslae; hulle antwoord nie meer nie; die woorde laat hulle in die steek.

32:16 Sal ek dan wag, omdat hulle nie spreek nie, omdat hulle daar staan sonder antwoord?

32:17 Ek wil ook my deel antwoord; ek wil ook my kennis meedeel.

32:18 Want ek is vol woorde; die gees in my binneste dring my.

32:19 Kyk, my binneste is soos wyn wat geen opening het nie, soos nuwe leersakke wil dit bars.

32:20 Ek wil spreek om lug te kry, my lippe oopmaak en antwoord gee.

32:21 Ek wil nie partydig wees nie; en 'n mens vlei, sal ek nie.

32:22 Want ek verstaan nie om te vlei nie; gou sou my Maker my wegneem!

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase