Index: Afrikaans

 

Job 8

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42]

8:1 Toe het Bildad, die Suhiet, geantwoord en gesê:

8:2 Hoe lank sal jy hierdie dinge spreek en die woorde van jou mond 'n geweldige wind wees?

8:3 Sou God die reg verdraai, of die Almagtige die geregtigheid krenk?

8:4 As jou kinders teen Hom gesondig het, het Hy hulle aan hul oortreding oorgegee.

8:5 As jy na God soek en die Almagtige om genade smeek,

8:6 as jy rein en opreg is, ja, dan sal Hy oor jou opwaak en jou woning herstel ooreenkomstig jou geregtigheid;

8:7 dan sal jou begin gering wees, maar jou einde baie groot.

8:8 Want doen tog navraag by die vorige geslag, en gee ag op wat hulle vaders nagespeur het;

8:9 (want ons is van gister en weet niks nie, omdat ons dae 'n skaduwee op die aarde is;)

8:10 sal húlle jou nie leer, jou dit nie sê en woorde uit hul hart voortbring nie?

8:11 Skiet die biesie op waar geen moeras is nie? Groei die riet sonder water?

8:12 Nog is dit in sy volle groei--sonder dat dit afgepluk word--dan verdor dit voor al die ander gras.

8:13 So gaan dit met almal wat God vergeet, en so vergaan die verwagting van die goddelose;

8:14 sy hoop is afgesny en die voorwerp van sy vertroue is 'n spinnerak.

8:15 Hy steun op sy huis, maar dit bly nie staan nie; hy klem hom daaraan vas, maar dit hou geen stand nie.

8:16 Vol sap staan hy in die son, en sy ranke sprei uit oor sy tuin.

8:17 Sy wortels is gevleg oor 'n hoop klippe heen, 'n kliphuis deurboor hy.

8:18 As Hy hom vernietig uit sy plek, sal dit hom verloën en sê: Ek het jou nie gesien nie.

8:19 Kyk, dit is die vreugde van sy lewensweg, en uit die stof spruit daar ander uit!

8:20 Kyk, God verwerp die vrome nie, en Hy vat die kwaaddoeners nie aan die hand nie.

8:21 Terwyl Hy jou mond met gelag vervul en jou lippe met gejuig,

8:22 sal jou haters met skaamte beklee word, en die tent van die goddelose--weg is dit!

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase