Index: Afrikaans

 

Job 7

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42]

7:1 Het die mens nie 'n stryd op die aarde nie? En is sy dae nie soos die dae van 'n dagloner nie?

7:2 Soos 'n slaaf wat hyg na die skaduwee, en soos 'n dagloner wat wag op sy werkloon,

7:3 so het ek erfgenaam geword van maande van teleurstelling en is nagte van moeite vir my bestem.

7:4 As ek gaan lê, dink ek: Wanneer sal ek opstaan? Maar die aand is lank, en ek word sat van al die omdraai tot die môreskemering toe.

7:5 My vlees is bekleed met wurms en stofklonte; my vel trek opmekaar en etter dan weer.

7:6 My dae is vinniger as 'n wewerspoel en verdwyn sonder verwagting.

7:7 Bedink tog dat my lewe wind is; my oog sal die voorspoed nie weer sien nie.

7:8 Die oog van hom wat my sien, sal my nie meer aanskou nie. U oë is op my--en ek is daar nie!

7:9 Die wolk verdwyn en gaan heen--so kom hy nie weer op wat na die doderyk neerdaal nie.

7:10 Hy sal nie meer teruggaan na sy huis nie, en sy plek sal hom nie meer ken nie.

7:11 So wil dan ook ék my mond nie hou nie, ek wil spreek in die benoudheid van my gees, ek wil klae in die bitterheid van my siel.

7:12 Is ek 'n see, of 'n groot seedier, dat U 'n wag teen my opstel?

7:13 As ek sê: My bed sal my troos, my slaapplek sal my klagte help dra,

7:14 dan verskrik U my deur drome en ontstel my deur gesigte,

7:15 sodat ek die verwurging verkies, die dood meer as hierdie geraamte van my.

7:16 Ek verfoei my lewe. Nie vir altyd sal ek lewe nie: laat my met rus, want my dae is nietigheid.

7:17 Wat is die mens, dat U hom so hoog stel en dat U op hom ag gee?

7:18 En dat U hom elke môre soek, elke oomblik hom op die proef stel?

7:19 Hoe lank sal U nie van my af wegkyk nie, my nie laat staan nie, totdat ek my speeksel insluk?

7:20 As ek gesondig het, wat doen ek U aan, o Mensebewaker? Waarom het U my as mikpunt vir U opgestel, sodat ek myself tot 'n las is?

7:21 En waarom vergeef U nie my oortreding en neem my ongeregtigheid nie weg nie? Want weldra sal ek in die stof lê; dan sal U my soek, maar ek sal daar nie wees nie.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase