Index: Afrikaans

 

Job 15

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42]

15:1 Toe het Élifas, die Temaniet, geantwoord en gesê:

15:2 Sal 'n wyse man met winderige wetenskap antwoord gee en sy buik vul met oostewind--

15:3 deur te pleit met woorde wat nie baat en met beweringe waarmee hy niks uitrig nie?

15:4 Ja, jy breek die Godsvrees af en verstoor die stille oordenking voor die aangesig van God.

15:5 Want jou ongeregtigheid gee onderrig aan jou mond, en jy kies die taal van die listiges.

15:6 Jou eie mond veroordeel jou, en nie ek nie; ja, jou eie lippe getuig teen jou.

15:7 Is jy die eerste as mens gebore en voor die heuwels in die wêreld gebring?

15:8 Het jy in die raad van God afgeluister en die wysheid na jou toe getrek?

15:9 Wat weet jy wat ons nie weet nie? Wat verstaan jy wat in ons nie is nie?

15:10 Ook is daar grys hare, ook bejaardes onder ons, ryker in dae as jou vader.

15:11 Is die vertroostinge van God vir jou te min, en 'n woord met sagtheid jou toegespreek?

15:12 Waarom sleep jou hart jou weg? En waarom flikker jou oë so--

15:13 dat jy jou toorn rig teen God en sulke woorde uit jou mond laat uitgaan?

15:14 Wat is die mens, dat hy rein sou wees? En hy wat uit 'n vrou gebore is, dat hy regverdig sou wees?

15:15 Kyk, in sy heiliges stel Hy geen vertroue nie; ja, die hemele is nie rein in sy oë nie;

15:16 hoeveel minder die afskuwelike en ontaarde, die mens wat onreg drink soos water!

15:17 Ek wil jou inlig, luister na my; en wat ek gesien het, wil ek vertel;

15:18 wat die wyse manne verkondig sonder om iets te verberg, van hulle vaders af oorgelewer;

15:19 aan hulle alleen was die land gegee, en geen vreemdeling het nog onder hulle deurgetrek nie.

15:20 Al sy dae leef die goddelose in angs, ja, al die jare deur wat vir die tiran bepaal is.

15:21 Skrikgeluide is in sy ore; in volle vrede oorval die verwoester hom.

15:22 Hy glo nie dat hy uit die duisternis sal terugkeer nie; en hy is bestemd vir die swaard.

15:23 Hy dwaal rond en soek brood. Waar is dit? Hy weet dat gereed is, ophande, die dag van duisternis.

15:24 Benoudheid en angs verskrik hom; dit oorweldig hom soos 'n koning wat gereed staan vir die aanval,

15:25 omdat hy sy hand uitgesteek het teen God en die Almagtige getrotseer het

15:26 (hy het Hom stormgeloop met uitgerekte nek, met die dik bulte van sy skilde);

15:27 omdat hy sy gesig met sy vet oordek en 'n vetlaag op sy heupe gevorm het,

15:28 en verdelgde stede bewoon het, huise wat nie bewoon moes word nie, wat bestem was om puinhope te bly.

15:29 Hy bly nie ryk en sy vermoë hou nie stand nie, en hulle besitting buig nie soos koringare na die aarde toe nie.

15:30 Hy ontvlug nie die duisternis nie, die vlam laat sy spruit verdroog, en hy vergaan deur die geblaas van die mond van God.

15:31 Laat hom nie vertrou op nietigheid nie--hy kom bedroë uit! --want nietigheid sal sy vergelding wees.

15:32 Voor sy tyd word dit vervul, en sy palmtak bly nie meer groen nie.

15:33 Hy skud sy onryp druiwe af soos 'n wingerdstok en gooi sy bloeisel af soos 'n olyfboom.

15:34 Want die bende van die goddelose is onvrugbaar, en vuur verteer die tente van omkopery.

15:35 Hulle is swanger van moeite en baar onheil; en hulle skoot bring bedrog voort.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase