Index: Afrikaans

 

Job 30

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42]

30:1 En nou lag hulle wat jonger is as ek, my uit--mense wie se vaders ek te min geag het om by my herdershonde te sit.

30:2 Wat sou die krag van hulle hande my ook baat? Die frisse lewenskrag het by hulle verlore gegaan.

30:3 Hulle is uitgeput deur gebrek en honger, hulle wat die dor land afknaag in die donkerheid van woestheid en verwoesting;

30:4 hulle wat die soutkruid afpluk by die bossies, en die besemboswortel is hulle brood.

30:5 Uit die samelewing word hulle weggejaag; die mense skreeu oor hulle soos oor 'n dief.

30:6 In die afgryslike klowe moet hulle woon, in gate in die grond en in rotse.

30:7 Tussen die bossies skreeu hulle, onder brandnekels kruip hulle bymekaar--

30:8 dwase, ja, eerlose mense wat met 'n sweep uit die land geslaan word.

30:9 En nou het ek hulle spotlied geword en die onderwerp van hulle gepraat.

30:10 Hulle het 'n afsku van my, staan op 'n afstand van my af en ontsien nie om my in die gesig te spuug nie.

30:11 Want Hy het my boogsnaar losgemaak en my verneder; so het hulle dan teenoor my die teuel laat skiet.

30:12 Aan die regterhand staan die gespuis op; hulle stoot my voete weg en gooi hul onheilspaaie teen my op.

30:13 My pad verniel hulle, hulle help om my te laat val sonder dat hulle self 'n helper het.

30:14 Soos deur 'n wye bres kom hulle; te midde van die puinhope kom hulle aanrol.

30:15 Verskrikkinge is teen my gerig; hulle vervolg my hoogheid soos die wind, en soos 'n wolk het my geluk verbygegaan.

30:16 Daarom stort my siel hom nou uit in my; dae van ellende hou my vas.

30:17 Die nag deurboor my gebeente, en dit val van my af; en my knaende pyne rus nooit nie.

30:18 Deur goddelike oormag is my kleed ontredder; soos die kraag van my lyfrok omspan dit my.

30:19 Hy het my in die modder gewerp, en ek het soos stof en as geword.

30:20 Ek roep U aan om hulp, maar U antwoord my nie; ek staan daar, en U staar my aan.

30:21 U is jeens my verander in 'n onbarmhartige; deur die sterkte van u hand behandel U my as vyand.

30:22 U hef my op die wind, laat my daarop ry; en U laat my vergaan in stormgedruis.

30:23 Want ek weet: U wil my na die dood toe bring en na die huis waar al wat lewe, saamkom.

30:24 Maar sal iemand by die ineenstorting nie nog die hand uitsteek of by sy ondergang om dié rede om hulp roep nie?

30:25 Of het ek nie geween oor hom wat harde dae het nie? Was my siel nie bekommerd oor die behoeftige nie?

30:26 Want ek het op die goeie gehoop, en onheil het gekom; en ek het gewag op lig, en donkerheid het gekom.

30:27 My ingewande kook sonder ophou; dae van ellende het my teëgekom.

30:28 Ek gaan daarheen in die rou, sonder son; ek staan op in die vergadering, ek roep om hulp.

30:29 Ek het 'n broer geword vir die jakkalse en 'n vriend vir die volstruise.

30:30 My vel het swart geword en val van my af, en my gebeente gloei van hitte.

30:31 So het dan my siter 'n rouklag geword en my fluit 'n stem van die wat ween.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase