Index: Afrikaans

 

Job 28

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42]

28:1 Want vir die silwer is daar 'n plek waar dit uitkom, en 'n plek vir die goud wat hulle uitwas.

28:2 Yster word uit die grond gehaal, en koper word uit klip gegiet.

28:3 'n Einde maak die mens aan die duisternis, en tot die uiterste grens deursoek hy die klip van donkerheid en doodskaduwee.

28:4 Hy breek 'n mynskag, wég van hom wat bo woon; hulle wat vergeet is deur die voet daarbo, hulle hang ver van mense af, hulle swaai heen en weer.

28:5 Die aarde--daar kom brood uit voort, maar daaronder word dit omgewoel soos deur vuur.

28:6 Die klippe daarvan is die plek van saffiere, en dit bevat stoffies van goud.

28:7 'n Pad wat die roofvoël nie ken nie, en die oog van die valk het dit nie gespeur nie;

28:8 waar die trotse roofdiere nie op trap nie, waar die leeu nie oor stap nie.

28:9 Hy slaan sy hand aan die klipharde rots, hy woel die berge van die wortel af om.

28:10 In die rotse breek hy gange uit, en sy oog sien allerhande kosbare dinge.

28:11 Hy stop waterare toe, dat hulle nie drup nie; en wat verborge was, bring hy aan die lig.

28:12 Maar die wysheid--waar word dit gevind? En waar is die plek van verstand?

28:13 Die mens ken nie die waarde daarvan nie, en dit word in die land van die lewende nie gevind nie.

28:14 Die wêreldvloed sê: In my is dit nie; en die see sê: By my is dit nie.

28:15 Fyn goud kan daarvoor nie gegee word nie, en geen silwer as koopprys daarvan afgeweeg word nie.

28:16 Die goud van Ofir weeg daar nie teen op nie, ook nie die kosbare onikssteen en saffier nie.

28:17 Goud en glas kan daarmee nie vergelyk word nie, en vir goue voorwerpe ruil 'n mens dit nie.

28:18 Korale en kristal kan nie genoem word nie, en die besit van wysheid is meer werd as korale.

28:19 Die topaas van Kus kan daarmee nie vergelyk word nie, suiwer goud word daarteen nie opgeweeg nie.

28:20 Die wysheid dan--waar kom dit vandaan? En waar is die plek van die verstand?

28:21 Ja, dit is verborge vir die oë van alles wat leef, en weggesteek vir die voëls van die hemel.

28:22 Die plek van vertering en die dood sê: Met ons ore het ons die gerug daarvan gehoor.

28:23 God weet die weg daarheen, en Hy ken die woonplek daarvan.

28:24 Want Hy sien tot by die eindes van die aarde; alles wat onder die hemel is, aanskou Hy.

28:25 Toe Hy vir die wind die gewig bepaal en die waters met die maat afgemeet het,

28:26 toe Hy vir die reën 'n wet gestel het en 'n weg vir die onweerstraal,

28:27 toe het Hy die wysheid gesien en dit verkondig; Hy het dit opgestel en dit ook deurvors.

28:28 Maar aan die mens het Hy gesê: Kyk, die vrees van die HERE is wysheid; en om van die kwaad af te wyk, is verstand.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase