Index: Afrikaans

 

Job 34

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42]

34:1 Verder het Elíhu aangehef en gesê:

34:2 Hoor my woorde, o wyse manne! En luister na my, u wat kennis het!

34:3 Want die oor toets woorde soos die verhemelte die spys proe.

34:4 Laat ons vir onsself uitmaak wat reg is, en onder mekaar uitvind wat goed is.

34:5 Want Job het gesê: Ek is regverdig, en God het my my reg ontneem.

34:6 Ondanks my reg staan ek as leuenaar; ongeneeslik is my pylwond, en dit sonder oortreding!

34:7 Waar is 'n man soos Job wat godslastering drink soos water?

34:8 Wat in die geselskap loop van die werkers van ongeregtigheid en wandel saam met goddelose mense?

34:9 Want hy het gesê: Dit baat 'n man niks dat hy 'n welgevalle aan God het nie.

34:10 Daarom, manne van verstand, luister na my: Ver is God van goddeloosheid en die Almagtige van onreg!

34:11 Veelmeer vergeld Hy die mens na sy werk, en volgens 'n man se wandel laat Hy hom ondervind.

34:12 Ja waarlik, God handel nie onregverdig nie, en die Almagtige verdraai nie die reg nie.

34:13 Wie het aan Hom die aarde toevertrou, en wie het die hele wêreld gegrond?

34:14 As Hy op Homself ag sou gee, sy Gees en sy asem na Hom sou terugtrek,

34:15 dan sou alle vlees tesame die asem uitblaas en die mens sou tot stof terugkeer.

34:16 As daar dan verstand by u is, hoor dit; luister na die stem van my woorde.

34:17 Kan ook een wat die reg haat, heers? Of durf u die Regverdige, die Geweldige, veroordeel?

34:18 Durf iemand aan 'n koning sê: Jou deugniet! Aan die edeles: Jou goddelose!

34:19 Hoeveel minder aan Hom wat die vorste nie voortrek nie en op die vername nie meer ag gee as op die arme nie; want hulle almal is die werk van sy hande.

34:20 In 'n oomblik sterf hulle, en in die middel van die nag word 'n volk in beroering gebring en hulle gaan onder, en die magtige word weggedryf--nie deur 'n hand nie.

34:21 Want sy oë is op die weë van die mens, en Hy sien al sy voetstappe.

34:22 Daar is geen duisternis en daar is geen diepe donkerheid waarin die werkers van ongeregtigheid hulle kan wegsteek nie.

34:23 Want Hy hoef nie lank op 'n mens ag te gee, dat hy voor God in die gereg sou gaan nie.

34:24 Hy verpletter die geweldiges sonder ondersoek en sit ander in hulle plek.

34:25 So ken Hy dan hulle werke en werp hulle omver in die nag, sodat hulle verbrysel word.

34:26 Hy straf hulle soos goddelose op die plek waar almal dit sien,

34:27 omdat hulle van Hom afgewyk en op geeneen van sy weë ag gegee het nie--

34:28 om die geroep van die arme na Hom te laat kom, en dat Hy die geroep van die ellendiges sou hoor.

34:29 En gee Hy rus, wie durf Hom dan veroordeel? En verberg Hy die aangesig, wie kan Hom dan aanskou? --of dit al 'n nasie betref of 'n mens, almal saam;

34:30 sodat die goddelose mense nie sal regeer, sodat hulle geen strikke vir die volk sal wees nie.

34:31 Want sê iemand wel tot Gód: Ek boet sonder dat ek sleg handel;

34:32 wat ek nie insien nie, leer U my dit; ás ek onreg gedoen het, ek sal dit nie meer doen nie--

34:33 moet Hy volgens u mening tog vergelding doen? U is mos ontevrede, sodat ú moet sê wat beter is, en nie ek nie! Wat u dan weet--spreek dit uit!

34:34 Manne van verstand sal vir my sê, en 'n wyse man wat my aanhoor:

34:35 Job spreek sonder kennis, en sy woorde is sonder verstand.

34:36 Ag, mag Job getoets word tot die einde toe weens die antwoorde in die trant van kwaaddoeners.

34:37 Want hy voeg 'n oortreding by sy sonde; onder ons spreek hy smadelik en vermenigvuldig sy woorde teen God.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase