Index: Afrikaans

 

Spreuke van Salomo 18

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31]

18:1 Hy wat hom afskei, soek sy eie begeerte; hy bestry alles wat waarlik tot voordeel strek.

18:2 Die dwaas het geen behae in verstandigheid nie, maar net daarin dat sy hart openbaar word.

18:3 As die goddelose kom, kom ook veragting; en saam met die skande, versmading.

18:4 Die woorde van 'n man se mond is diep waters, 'n stroom wat bruis, 'n fontein van wysheid.

18:5 Om vir die goddelose partydig te wees, om die regverdige in die gereg weg te stoot, is nie goed nie.

18:6 Die lippe van die dwaas kom met getwis, en sy mond roep na slae.

18:7 Die mond van die dwaas is sy ondergang en sy lippe 'n strik vir sy lewe.

18:8 Die woorde van die kwaadstoker is soos lekkernye, en dit gly af na die kamers van die binneste.

18:9 Alreeds hy wat hom slap hou in sy werk, hy is 'n broer van 'n verwoester.

18:10 Die Naam van die HERE is 'n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.

18:11 Die goed van die ryke is sy sterk stad en soos 'n steil muur in sy verbeelding.

18:12 Voor die verbreking is die mens se hart hoogmoedig, maar nederigheid gaan aan die eer vooraf.

18:13 Hy wat antwoord gee voordat hy gehoor het, vir hom sal dit 'n sotheid en 'n skande wees.

18:14 Die gees van 'n man ondersteun hom in sy krankheid; maar 'n verslae gees--wie kan dit opbeur?

18:15 Die hart van die verstandige verwerf kennis, en die oor van wyse soek na kennis.

18:16 Die geskenk van iemand maak vir hom ruimte en bring hom in die teenwoordigheid van die aansienlikes.

18:17 Hy wat die eerste in sy regsaak is, het reg; maar sy naaste kom en ondersoek hom terdeë.

18:18 Die lot laat die geskille ophou en maak sterkes uitmekaar.

18:19 'n Broer teen wie oortree is, is erger as 'n sterk stad; en geskille is soos die grendel van 'n paleis.

18:20 Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrings van sy lippe.

18:21 Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.

18:22 Wie 'n vrou gevind het, het iets goeds gevind en 'n welgevalle van die HERE verkry.

18:23 Die arme spreek smekinge, maar die ryke antwoord harde dinge.

18:24 'n Man met baie vriende word geruïneer, maar daar is 'n vriend wat sterker aanhang as 'n broer.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase