Index: Afrikaans

 

Spreuke van Salomo 7

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31]

7:1 My seun, onderhou my woorde en bewaar my gebooie by jou;

7:2 onderhou my gebooie, dan sal jy lewe, en my onderwysing soos jou oogappel;

7:3 bind hulle aan jou vingers, skryf hulle op die tafel van jou hart.

7:4 Sê aan die wysheid: Jy is my suster! en noem die verstand jou vertroueling,

7:5 sodat hulle jou kan bewaar vir die vreemde vrou, vir die ontugtige wat met haar woorde vlei.

7:6 Want ek het deur die venster van my huis, deur my tralievenster uitgekyk,

7:7 en ek het onder die eenvoudiges gesien, onder die jongmense 'n verstandelose jongman opgemerk,

7:8 wat op die straat verbygaan naby haar hoek en in die rigting van haar huis stap,

7:9 in die skemer, in die aand van die dag, in die middel van die nag en die donker.

7:10 En kyk, daar kom 'n vrou hom tegemoet, soos 'n hoer aangetrek en listig van hart--

7:11 sy is onrustig en losbandig, haar voete kan nie in haar huis bly nie--

7:12 nou buitekant, dan weer op die pleine, en sy staan by elke hoek en loer.

7:13 En sy het hom gegryp en hom gesoen, met 'n onbeskaamde gesig vir hom gesê:

7:14 Ek moes dankoffers bring, vandag het ek my geloftes betaal;

7:15 daarom het ek uitgegaan om jou te ontmoet, om jou aangesig te soek, en ek het jou gekry.

7:16 Ek het my bed met dekens opgemaak, met bont spreie van Egiptiese linne;

7:17 ek het my bed besprinkel met mirre, alewee en kaneel--

7:18 kom, laat ons dronk word van liefde tot die môre toe, laat ons mekaar vrolik maak in welluste.

7:19 Want die man is nie tuis nie, hy het ver weg op reis gegaan,

7:20 die geldbeurs het hy met hom saamgeneem, teen die dag van volmaan sal hy eers tuis kom.

7:21 Sy het hom verlei deur haar baie mooipraatjies, deur die gladheid van haar lippe het sy hom verlok.

7:22 Hy loop skielik agter haar aan soos 'n bees wat na die slagpaal gaan, en soos voetboeie wat dien tot tugtiging van die sot,

7:23 totdat die pyl sy lewer splits; soos 'n voël haastig na die vangnet vlieg--sonder om te weet dat dit ten koste van sy lewe is.

7:24 Hoor dan nou na my, seuns, en luister na die woorde van my mond.

7:25 Laat jou hart nie afwyk na haar weë nie, dwaal nie rond op haar paaie nie.

7:26 Want baie is die gesneuweldes wat sy laat val het, en talryk almal wat deur haar vermoor is.

7:27 Haar huis is weë na die doderyk, wat afdaal na die kamers van die dood.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase