Index: Afrikaans

 

Die Evangelie volgens Johannes 9

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21]

9:1 En toe Hy verbygaan, sien Hy 'n man wat blind was van sy geboorte af.

9:2 En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?

9:3 Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.

9:4 Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie.

9:5 So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld.

9:6 En toe Hy dit gesê het, spuug Hy op die grond en maak klei van die spuug en smeer die klei aan die oë van die blinde man

9:7 en sê vir hom: Gaan was jou in die badwater Silóam, wat vertaal word: Uitgestuur. En hy het gegaan en hom gewas; en hy het siende teruggekom.

9:8 Die bure dan en die wat hom vroeër gesien het dat hy blind was, sê toe: Is hy nie die een wat gesit en bedel het nie?

9:9 Ander sê: Dit is hy. Ander weer: Hy lyk na hom. Hy antwoord: Dit is ek.

9:10 Hulle sê vir hom: Hoe is jou oë geopen?

9:11 Hy antwoord en sê: Die man wat Jesus genoem word, het klei gemaak en op my oë gesmeer en vir my gesê: Gaan na die badwater Silóam en was jou. En ek het gegaan en my gewas en ek sien.

9:12 En hulle sê vir hom: Waar is Hy? Hy antwoord: Ek weet nie.

9:13 Hulle bring hom na die Fariseërs--die man wat vroeër blind was.

9:14 En dit was sabbat toe Jesus die klei gemaak en sy oë geopen het.

9:15 Die Fariseërs vra hom toe weer hoe hy siende geword het. En hy antwoord hulle: Hy het klei op my oë gesit, en ek het my gewas en ek sien.

9:16 En sommige van die Fariseërs sê: Hierdie man kom nie van God nie, omdat Hy die sabbat nie hou nie. Ander sê: Hoe kan 'n sondige mens sulke tekens doen? En daar was verdeeldheid onder hulle.

9:17 Weer sê hulle vir die blinde man: Jy, wat sê jy van Hom, aangesien Hy jou oë geopen het? En hy antwoord: Hy is 'n profeet.

9:18 En die Jode het dit nie van hom geglo dat hy blind was en siende geword het nie, totdat hulle die ouers geroep het van hom wat siende geword het.

9:19 En hulle vra hul en sê: Is dit julle seun van wie julle sê dat hy blind gebore is? Hoe sien hy dan nou?

9:20 Sy ouers antwoord hulle en sê: Ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is;

9:21 maar hoe hy nou sien, weet ons nie; of wie sy oë geopen het, weet ons nie. Hy is self oud genoeg, vra hom; hy sal vir homself praat.

9:22 Dit het sy ouers gesê omdat hulle bang was vir die Jode; want die Jode het al ooreengekom dat as iemand Hom as die Christus bely, hy uit die sinagoge geban sou word.

9:23 Daarom het sy ouers gesê: Hy is oud genoeg, vra hom.

9:24 Hulle roep toe vir die tweede keer die man wat blind was, en sê vir hom: Gee aan God die eer; ons weet dat hierdie man 'n sondaar is.

9:25 En hy antwoord en sê: Of Hy 'n sondaar is, weet ek nie. Een ding weet ek: dat ek blind was en nou sien.

9:26 En hulle sê weer vir hom: Wat het Hy vir jou gedoen? Hoe het Hy jou oë geopen?

9:27 Hy antwoord hulle: Ek het julle dit alreeds gesê, en julle het nie geluister nie. Waarom wil julle dit weer hoor? Julle wil tog nie ook sy dissipels word nie?

9:28 Hulle skel hom toe uit en sê: Jy is 'n dissipel van daardie man, maar ons is dissipels van Moses.

9:29 Ons weet dat God met Moses gespreek het; maar wat Hom betref, ons weet nie van waar Hy is nie.

9:30 Die man antwoord en sê vir hulle: Hierin is tog iets wonderliks dat julle nie weet van waar Hy is nie, en Hy het my oë geopen!

9:31 En ons weet dat God nie sondaars verhoor nie; maar as iemand godvresend is en sy wil doen, dié verhoor Hy.

9:32 Van ouds af is dit nie gehoor dat iemand die oë van 'n blindgebore mens geopen het nie.

9:33 As Hy nie van God was nie, sou Hy niks kan doen nie.

9:34 Hulle antwoord en sê vir hom: Jy is heeltemal in sondes gebore, en leer jy ons? En hulle het hom uitgeban.

9:35 Jesus het gehoor dat hulle hom uitgeban het; en toe Hy hom kry, sê Hy vir hom: Glo jy in die Seun van God?

9:36 Hy antwoord en sê: Wie is Hy, Here, dat ek in Hom kan glo?

9:37 En Jesus sê vir hom: Jy het Hom gesien; en Hy wat met jou spreek, dit is Hy.

9:38 Toe sê hy: Ek glo, Here! En hy het Hom aanbid.

9:39 En Jesus sê: Tot 'n oordeel het Ek in hierdie wêreld gekom, sodat die wat nie sien nie, mag sien, en die wat sien, blind mag word.

9:40 En dié van die Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: Is ons dan ook blind?

9:41 Jesus antwoord hulle: As julle blind was, sou julle geen sonde hê nie; maar nou sê julle: Ons sien! Daarom bly julle sonde.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase