Index: Afrikaans

 

Sagaria 4

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14]

4:1 En die engel wat met my gespreek het, het teruggekom en my gewek soos 'n man wat uit die slaap opgewek word.

4:2 En hy het vir my gesê: Wat sien jy? Toe antwoord ek: Ek sien daar 'n kandelaar, heeltemal van goud, en sy oliekan bo-oor hom en sy sewe lampe op hom; telkens sewe aanvoerpype loop na die lampe wat bo-oor hom is.

4:3 Ook twee olyfbome langs hom, een aan die regterkant van die oliekan en een aan die linkerkant daarvan.

4:4 Daarop het ek begin spreek en aan die engel wat met my gespreek het, gesê: Wat beteken dit, my heer?

4:5 En die engel wat met my gespreek het, antwoord en sê vir my: Weet jy dan nie wat dit beteken nie? En ek het gesê: Nee, my heer.

4:6 Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.

4:7 Wie is jy, groot berg? Voor Serubbábel sal jy tot 'n gelykte word! En hy sal die sluitsteen te voorskyn bring onder uitroepe van: Genade, genade oor hom!

4:8 En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:

4:9 Die hande van Serubbábel het die fondament van hierdie huis gelê, en sy hande sal dit voltooi; dan sal jy weet dat die HERE van die leërskare my na julle gestuur het.

4:10 Want wie verag die dag van klein dinge, terwyl daardie sewe--die oë van die HERE wat die ganse aarde deurloop--met blydskap die skietlood aanskou in die hand van Serubbábel?

4:11 Daarop het ek begin spreek en aan hom gesê: Wat beteken hierdie twee olyfbome aan die regterkant van die kandelaar en aan die linkerkant daarvan?

4:12 En ek het toe nogmaals gespreek en vir hom gesê: Wat beteken die twee olyftakkies aan die kant van die twee goue pype wat goud uit hulle laat uitstroom?

4:13 Toe antwoord hy my en sê: Weet jy nie wat dit beteken nie? En ek het gesê: Nee, my heer.

4:14 En hy sê: Dit is die twee gesalfdes wat by die Here van die ganse aarde staan.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase