Index: Afrikaans

 

Sagaria 2

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14]

2:1 En ek het my oë opgehef en gekyk--daar was 'n man met 'n meetsnoer in sy hand.

2:2 Toe sê ek: Waar gaan u heen? En hy antwoord my: Om Jerusalem te meet, om te sien wat sy breedte en wat sy lengte is.

2:3 En meteens kom die engel wat met my gespreek het, vorentoe; en 'n ander engel het te voorskyn gekom, hom tegemoet,

2:4 aan wie hy sê: Loop gou, spreek met hierdie jongman en sê: Jerusalem sal lê soos 'n oop land weens die menigte van mense en vee daar binne-in.

2:5 En Ek sal vir hom wees, spreek die HERE, 'n vurige muur rondom en tot heerlikheid daar binne-in.

2:6 Op, op, vlug uit die Noordland, spreek die HERE! Want Ek het julle na die vier windstreke van die hemel verstrooi, spreek die HERE.

2:7 Op, o Sion, red jouself, jy wat woon by die dogter van Babel!

2:8 Want so sê die HERE van die leërskare: Hy het my gestuur agter heerlikheid aan na die nasies wat julle uitgebuit het; want wie julle aanraak, raak sy oogappel aan.

2:9 Want kyk, Ek sal my hand oor hulle swaai, sodat hulle 'n buit word vir hulle knegte. Dan sal julle weet dat die HERE van die leërskare my gestuur het.

2:10 Jubel, en wees bly, o dogter van Sion! Want kyk, Ek kom om in jou midde te woon, spreek die HERE.

2:11 En baie nasies sal hulle in dié dag by die HERE aansluit, en hulle sal My tot 'n volk wees; en Ek sal in jou midde woon. Dan sal jy weet dat die HERE van die leërskare my na jou gestuur het.

2:12 En die HERE sal besit neem van Juda as sy erfdeel op die heilige grond en Jerusalem weer verkies.

2:13 Swyg alle vlees voor die HERE! Want Hy verhef Hom uit sy heilige woning.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase