Index: Afrikaans

 

Hooglied van Salomo 7

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8]

7:1 Hoe mooi is u skrede in die skoene, o edele dogter! Die golwende lyne van u heupe is soos halssierade, 'n werk van kunstenaarshande.

7:2 U nawel is 'n ronde kom--laat die gemengde wyn nie ontbreek nie. U liggaam is 'n hoop koring, omring deur lelies.

7:3 U twee borste is soos twee lammers, tweelinge van 'n gemsbok.

7:4 U hals is soos 'n ivoortoring, u oë vywers in Hesbon by die poort Bat-Rabbim; u neus soos die toring van die Líbanon wat na Damaskus toe uitkyk.

7:5 U hoof op u is soos die Karmel, en die golwende hare van u hoof soos purper--'n koning gevang in haarlokke!

7:6 Hoe mooi en hoe lieflik is u, o liefde, onder al die genietinge!

7:7 U hoë gestalte daar lyk soos 'n dadelpalm, en u borste soos vrugtetrosse.

7:8 Ek het gedink: Laat ek op die dadelpalm klim, laat ek sy trosse gryp; en laat u borste tog wees soos trosse van die wingerdstok, en die geur van u asem soos dié van appels,

7:9 en u verhemelte soos die beste wyn wat vir my beminde saggies na binne gly, en oor die lippe vloei van die wat inslaap.

7:10 Ek is my beminde s'n, en sy begeerte is na my.

7:11 Kom, my beminde, laat ons uitgaan in die veld, laat ons in die dorpe vernag.

7:12 Laat ons vroeg na die wingerde gaan, laat ons sien of die wingerdstok uitloop, die druiwebloeisel oopgaan, die granate blom. Daar sal ek u my liefde gee.

7:13 Die liefdesappels gee geur, en by ons deure is allerhande kostelike vrugte, vars en oud; o my beminde, dit het ek vir u weggebêre.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase