Index: Afrikaans

 

Hooglied van Salomo 1

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8]

1:1 Die hooglied van Salomo.

1:2 Laat hy my kus met kusse van sy mond; want u liefde is kosteliker as wyn.

1:3 U salf is aangenaam van geur, u naam is soos salf wat uitgegiet is; daarom het die jonkvroue u lief.

1:4 Trek my agter u aan, laat ons gou maak! Die koning het my in sy binnekamers gebring. Ons wil juig en ons in u verheug, ons wil u liefde prys meer as wyn. Met reg het hulle u lief.

1:5 Ek is bruin gebrand maar lieflik, o dogters van Jerusalem, soos die tente van Kedar, soos die gordyne van Salomo.

1:6 Moenie na my kyk omdat ek so bruinerig is, omdat die son my verbrand het nie: die seuns van my moeder was toornig op my; hulle het my aangestel as oppasser van die wingerde; my eie wingerd het ek nie opgepas nie.

1:7 Vertel my tog, my sielsbeminde, waar laat u wei, waar laat u smiddags die vee lê en rus? Want waarom sou ek wees soos een wat haar met 'n sluier toedraai by die kuddes van u metgeselle?

1:8 As u dit self nie weet nie, mooiste onder die vroue, gaan dan uit op die spore van die skape en laat u bokkies wei by die hutte van die herders.

1:9 Met die perde voor 'n wa van Farao vergelyk ek u, my vriendin!

1:10 Lieflik is u wange tussen die kettinkies, u hals in die snoere.

1:11 Ons sal vir u goue kettinkies maak met silwerknoppe.

1:12 So lank as die koning aan sy tafel was, het my nardus sy geur gegee.

1:13 My beminde is vir my 'n bossie mirre wat tussen my borste rus.

1:14 My beminde is vir my 'n tros henna-blomme in die wingerde van Éngedi.

1:15 Hoe mooi is u tog, my vriendin! Hoe mooi is u tog, u oë is soos duiwe!

1:16 Hoe mooi is u tog, my beminde, ja lieflik; ook is ons bed in die groenigheid.

1:17 Die balke van ons huise is seders, ons paneelwerk sipresse.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase