Index: Afrikaans

 

2 Thimotheus 2

[1] [2] [3] [4]

2:1 Jy dan, my seun, wees sterk deur die genade wat in Christus Jesus is;

2:2 en wat jy van my gehoor het onder baie getuies, vertrou dit toe aan getroue manne wat bekwaam sal wees om ook ander te leer.

2:3 Ly dan verdrukking soos 'n goeie krygsman van Jesus Christus.

2:4 Niemand wat 'n krygsman is, wikkel hom in die werksaamhede van die lewensonderhoud nie, sodat hy die een kan behaag wat hom vir die diens gewerf het.

2:5 En verder, as iemand aan 'n wedstryd deelneem, word hy nie bekroon as hy nie volgens die reëls gewedywer het nie.

2:6 Die landbouer wat swaar werk, behoort eerste van die vrugte te geniet.

2:7 Dink na oor wat ek sê; en mag die Here jou insig gee in alles!

2:8 Onthou dat Jesus Christus, uit die geslag van Dawid, uit die dode opgewek is volgens my evangelie,

2:9 waarin ek verdrukking ly tot die boeie toe soos 'n kwaaddoener; maar die woord van God is nie gebonde nie.

2:10 Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, kan verkry met die ewige heerlikheid.

2:11 Dit is 'n betroubare woord; want as ons met Hom gesterf het, sal ons ook met Hom lewe.

2:12 As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën.

2:13 As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.

2:14 Herinner aan hierdie dinge en betuig voor die Here dat hulle geen woordestryd moet voer wat tot geen nut is nie, maar net tot ondergang van die hoorders.

2:15 Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as 'n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.

2:16 Maar die onheilige, onsinnige praatjies moet jy vermy; want hulle sal al verder voortgaan in goddeloosheid,

2:17 en hulle woord sal voortwoeker soos 'n kanker, onder wie daar Himenéüs en Filétus is,

2:18 wat van die waarheid afgedwaal het, omdat hulle sê dat die opstanding al plaasgevind het; en hulle keer die geloof van sommige om.

2:19 Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.

2:20 Maar in 'n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en erdewerk; en sommige tot eer, maar ander tot oneer.

2:21 As iemand hom dus hiervan deeglik reinig, sal hy 'n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk.

2:22 Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit 'n rein hart aanroep.

2:23 En die dwase en onverstandige strydvrae moet jy afwys, omdat jy weet dat dit twis verwek;

2:24 en 'n dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra.

2:25 Hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys, of God hulle nie miskien bekering sal gee tot die kennis van die waarheid nie,

2:26 en hulle weer nugter kan word, vry van die strik van die duiwel, nadat hulle deur hom gevang was om sy wil te doen.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase