Index: Afrikaans

 

Galate 5

[1] [2] [3] [4] [5] [6]

5:1 Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.

5:2 Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie.

5:3 En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou.

5:4 Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.

5:5 Want óns verwag deur die Gees uit die geloof die geregtigheid waarop ons hoop.

5:6 Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar die geloof wat deur die liefde werk.

5:7 Julle het goed geloop: wie het julle verhinder om die waarheid gehoorsaam te wees?

5:8 Hierdie oortuiging kom nie van Hom wat julle roep nie.

5:9 'n Bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur.

5:10 Ek vertrou van julle in die Here dat julle nie anders sal dink nie; maar die een wat julle in die war bring, sal die oordeel dra, wie dit ook mag wees.

5:11 Maar ek, broeders, as ek nog die besnydenis verkondig, waarom word ek nog vervolg? Dan is die struikelblok van die kruis vernietig!

5:12 Ag, as die wat julle opstandig maak, hulleself tog maar ook wou vermink!

5:13 Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as 'n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde.

5:14 Want die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

5:15 Maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie.

5:16 Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;

5:17 want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.

5:18 Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie.

5:19 En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid;

5:20 afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap;

5:21 afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.

5:22 Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

5:23 Teen sulke dinge is die wet nie.

5:24 Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig.

5:25 As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.

5:26 Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase