Index: Afrikaans

 

Amos 2

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9]

2:1 So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Moab, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hy die beendere van die koning van Edom tot kalk verbrand het.

2:2 Daarom sal Ek 'n vuur slinger in Moab, en dit sal die paleise van Kérijot verteer; en Moab sal met oorlogsrumoer sterwe, met krygsgeskreeu en basuingeskal.

2:3 En Ek sal die regeerder onder hulle uitroei en al hulle vorste saam met hom doodmaak, sê die HERE.

2:4 So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Juda, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle die wet van die HERE verwerp het en sy insettinge nie onderhou het nie; en hulle leuengode het hulle verlei waar hulle vaders agter aan geloop het.

2:5 Daarom sal Ek 'n vuur slinger in Juda, en dit sal die paleise van Jerusalem verteer.

2:6 So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Israel, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle die regverdige vir geld verkoop het en die behoeftige vir 'n paar skoene.

2:7 Hulle wat daarna hyg dat die stof van die aarde op die hoof van die armes kom, en wat die weg van die ellendiges buig; en die man en sy vader gaan na dieselfde jongedogter om my heilige Naam te ontheilig.

2:8 En hulle strek hul uit op verpande klere by elke altaar, en die wyn van die wat beboet is, drink hulle in die huis van hul god.

2:9 En tog het Ék die Amoriet voor hulle uit verdelg wie se hoogte was soos die hoogte van die seders, en hy was sterk soos die eikebome; maar Ek het sy vrug daarbo en sy wortels daaronder verdelg.

2:10 Ook het Ek julle uit Egipteland laat optrek en julle veertig jaar lank in die woestyn gelei, om die land van die Amoriet in besit te neem.

2:11 En Ek het uit julle seuns profete en uit julle jongelinge nasireërs verwek. Is dit nie so nie, o kinders van Israel? spreek die HERE.

2:12 Maar julle het die nasireërs wyn laat drink en aan die profete bevel gegee en gesê: Julle mag nie profeteer nie!

2:13 Kyk, Ek laat dit onder julle kraak, soos 'n wa kraak wat vol gerwe is;

2:14 sodat die wat gou is, nie kan ontvlug nie, en die sterke sy krag nie kan ontwikkel en die held sy lewe nie kan red nie.

2:15 En die boogskutter sal nie bly staan en die wat gou is op sy voete, nie vrykom nie, en die perderuiter sal sy lewe nie red nie.

2:16 En die dapperste onder die helde sal op dié dag naak wegvlug, spreek die HERE.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase