Index: Afrikaans

 

Esegiël 47

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48]

47:1 Daarna het hy my teruggebring na die ingang van die huis, en kyk, daar het waters uitgestroom onder die drumpel van die huis uit, na die ooste toe; want die voorkant van die huis was na die ooste toe; en die waters het weggevloei onder die regtersymuur van die huis uit, suid van die altaar.

47:2 En hy het my uitgebring deur die noordpoort en my buitekant om laat gaan na die buitenste poort wat na die ooste kyk; en kyk, die waters het gekabbel uit die regtersymuur uit.

47:3 Toe die man na die ooste uitgegaan het met 'n meetsnoer in sy hand, het hy duisend el gemeet; en hy het my deur die waters laat deurgaan--waters tot aan die enkels.

47:4 Toe het hy nog duisend gemeet en my deur die waters laat deurgaan--waters tot aan die knieë; en hy het nog duisend gemeet en my laat deurgaan--waters tot aan die heupe.

47:5 Verder het hy nog duisend gemeet--'n stroom wat ek nie kon deurgaan nie! Want die waters het opgerys--waters om in te swem, 'n stroom waar 'n mens nie deur kan loop nie.

47:6 En hy het vir my gesê: Het jy dit gesien, mensekind? Toe het hy my weer terug laat loop aan die kant van die stroom.

47:7 Terwyl ek teruggaan, kyk, toe het ek aan die kant van die stroom 'n menigte bome gesien, aan altwee kante.

47:8 En hy het vir my gesê: Hierdie waters vloei weg na die oostelike landstreek en loop in die Vlakte af en gaan na die see; in die see word dit uitgelei, sodat die waters daarvan gesond kan word.

47:9 En al die lewende wesens wat wemel, oral waar die dubbele stroom kom, sal lewe; en daar sal 'n menigte visse wees, omdat hierdie waters daarheen gekom het; en dié waters sal gesond word, en alles sal lewe waar die stroom kom.

47:10 Ook sal vissers daaraan staan, van Éngedi af tot by en Eglaim: 'n droogmaakplek vir die nette sal dit wees; na hulle soorte sal daar visse in wees soos die visse van die Groot See, 'n menigte.

47:11 Die moerasse en kuile daarvan--húlle sal nie gesond word nie: vir sout is hulle bestem.

47:12 En by die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die vrugte nie sal opraak nie; elke maand sal hulle nuwe vrugte dra; want die waters waar hulle aan staan--uit die heiligdom stroom hulle; en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare om te genees.

47:13 So sê die Here HERE: Dit moet die grondgebied wees waarin julle die land as erfdeel sal verwerf volgens die twaalf stamme van Israel--vir Josef twee dele.

47:14 En julle moet dit erwe, die een soos die ander, omdat Ek my hand opgehef het om dit aan julle vaders te gee; en hierdie land moet julle as erfenis toeval.

47:15 En dit moet die grens van die land wees: aan die noordekant van die Groot See af, langs die weg van Hetlon, tot by die ingang na Sedad toe:

47:16 Hamat, Berota, Sibraim, wat tussen die gebied van Damaskus en die gebied van Hamat lê, die middelste Haser, wat op die grens van Hauran is.

47:17 So moet dan die grens van die See af wees tot by Hasar-Enon, die gebied van Damaskus, en wat die noorde betref noordwaarts, is Hamat die grens; dit is die noordekant.

47:18 En aan die oostekant: tussen Hauran en Damaskus en Gílead en die land van Israel uit--die Jordaan; van dié grens af tot by die Oostelike See moet julle dit meet; dit is die oostekant.

47:19 En aan die suidekant na die suide toe van Tamar af tot by die twiswaters van Kades, dan na die spruit van Egipte tot by die Groot See; dit is die suidekant na die suide toe.

47:20 En aan die westekant die Groot See, van die grens af tot reg teenoor die plek waar die ingang na Hamat is; dit is die westekant.

47:21 En julle moet hierdie land aan julle uitdeel volgens die stamme van Israel.

47:22 En julle moet dit as erfenis laat toeval aan julle en aan die vreemdelinge wat onder julle vertoef, wat kinders onder julle verwek het; en hulle sal vir julle wees soos 'n kind van die land onder die kinders van Israel; saam met julle moet hulle 'n erfdeel ontvang onder die stamme van Israel.

47:23 En in die stam waar die vreemdeling by vertoef, daar moet julle hom sy erfdeel gee, spreek die Here HERE.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase