Index: Afrikaans

 

Jeremia 14

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48] [49] [50] [51] [52]

14:1 Die woord van die HERE wat tot Jeremia gekom het weens die groot droogte.

14:2 Juda treur en sy poorte verval; hulle sit in rou op die grond, en die geskreeu van Jerusalem gaan op.

14:3 En die vernames onder hulle stuur hulle ondergeskiktes na die water; hulle kom by die bakke, hulle kry geen water nie; leeg kom hulle kanne terug; hulle het beskaamd gestaan en in die skande gekom en bedek hulle hoof.

14:4 Weens die land wat verslae is, omdat daar geen reën op die aarde is nie, kom die landbouers in die skande, hulle bedek hulle hoof.

14:5 Want selfs die wildsbok in die veld lam en gooi haar lam weg, omdat daar geen jong gras is nie.

14:6 En wilde-esels staan op die kaal heuwels, hulle snuif die wind op soos die jakkalse; hulle oë versmag, omdat daar geen gras is nie.

14:7 Hoewel ons ongeregtighede teen ons getuig, o HERE, doen dit om u Naam ontwil; want ons afkerighede is baie, ons het teen U gesondig.

14:8 o Verwagting van Israel, sy Verlosser in tyd van benoudheid! Waarom sou U wees soos 'n vreemdeling in die land en soos 'n reisiger wat uitdraai om te vernag?

14:9 Waarom sou U wees soos 'n man wat verslae is, soos 'n held wat nie kan verlos nie? U is tog in ons midde, o HERE, en u Naam is oor ons uitgeroep. Verlaat ons nie!

14:10 So sê die HERE van hierdie volk: Só het hulle daarvan gehou om te swerwe, hulle het hul voete nie teruggehou nie; daarom het die HERE geen behae in hulle nie. Nou sal Hy aan hulle ongeregtigheid dink en hulle sondes besoek.

14:11 Verder het die HERE vir my gesê: Bid nie vir hierdie volk ten goede nie.

14:12 As hulle vas, luister Ek nie na hulle gesmeek nie; en as hulle brandoffer en spysoffer bring, het Ek in hulle geen behae nie; maar deur die swaard en die hongersnood en die pes maak Ek hulle tot niet.

14:13 Toe sê ek: Ag, Here HERE, kyk, die profete sê vir hulle: Julle sal geen swaard sien en geen hongersnood hê nie; maar Ek sal julle 'n duursame vrede gee in hierdie plek.

14:14 En die HERE het vir my gesê: Die profete profeteer vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur en hulle geen bevel gegee en met hulle nie gespreek nie; hulle profeteer vir julle 'n leuengesig en nietige waarsêery en bedrieëry van hulle hart.

14:15 Daarom, so spreek die HERE: Aangaande die profete wat profeteer in my Naam sonder dat Ek hulle gestuur het, en wat sê: Daar sal geen swaard of hongersnood in hierdie land wees nie--dié profete sal deur die swaard en die hongersnood omkom.

14:16 En die volk vir wie hulle profeteer, sal in die strate van Jerusalem weggegooi lê vanweë die hongersnood en die swaard sonder dat iemand hulle begrawe; hulle, hulle vrouens en hulle seuns en hulle dogters. So sal Ek dan hulle boosheid oor hulle uitstort.

14:17 Sê aan hulle dan hierdie woord: Laat my oë afloop in trane nag en dag en nie ophou nie; want die jonkvrou, die dogter van my volk, is gebreek met 'n groot verbreking, met 'n baie smartlike wond.

14:18 As ek uitgaan in die veld, lê daar die wat verslaan is deur die swaard; en as ek kom in die stad, is daar die kwale van die hongersnood. Ja, selfs profeet en priester trek rond in die land sonder om iets te weet.

14:19 Het U Juda dan heeltemal verwerp? Of het u siel 'n afsku van Sion? Waarom het U ons geslaan, sodat daar geen genesing vir ons is nie? Hulle wag op vrede, maar daar is niks goeds nie; en op 'n tyd van beterskap, maar daar is verskrikking.

14:20 HERE, ons ken ons goddeloosheid, die ongeregtigheid van ons vaders, want ons het teen U gesondig.

14:21 Verwerp ons nie ter wille van u Naam; onteer die troon van u heerlikheid nie; hou tog in gedagtenis, verbreek nie u verbond met ons nie.

14:22 Is daar onder die nietige afgode van die nasies wat reën kan maak? Of kan die hemel reënbuie gee? Is U dit nie, o HERE onse God? En ons wag op U, want U doen al hierdie dinge.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase