Index: Afrikaans

 

Jesaja 21

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48] [49] [50] [51] [52] [53] [54] [55] [56] [57] [58] [59] [60] [61] [62] [63] [64] [65] [66]

21:1 Godspraak oor die woestyn van die see. Soos stormwinde in die Suidland deurtrek, kom dit uit die woestyn, uit 'n vreeslike land!

21:2 'n Harde gesig is my te kenne gegee: Die ontroue handel troueloos, en die verwoester verwoes. Trek op, Elam! Beleër, Médië! Aan alle gesug maak Ek 'n einde.

21:3 Daarom is my heupe vol siddering, weë het my aangegryp soos die weë van een wat baar; ek buig my krom, sodat ek nie hoor nie; ek is verskrik, sodat ek nie sien nie.

21:4 My hart duisel, angs oorval my; dit maak vir my die skemeraand wat ek liefhet, tot 'n verskrikking.

21:5 Hulle maak die tafel gereed, hulle sprei die tapyt, hulle eet, drink.... Staan op, o vorste, salf die skild!

21:6 Want so het die Here vir my gesê: Gaan heen, sit 'n wag uit; laat hom te kenne gee wat hy sien;

21:7 en sien hy 'n stoet ruiters, twee aan twee, 'n stoet esels, 'n stoet kamele, dan moet hy skerp luister, so skerp as hy kan.

21:8 En hy het geroep soos 'n leeu. Op die wagtoring, Here, staan ek gedurig by dag, en op my wagpos stel ek my al die nagte.

21:9 En kyk, daar kom 'n stoet manne, ruiters twee aan twee. Toe het hy aangehef en gesê: Geval, geval het Babel, en hulle het al die gesnede beelde van sy gode verbrysel teen die grond.

21:10 o My vertrapte en gedorste volk, wat ek gehoor het van die HERE van die leërskare, die God van Israel, het ek julle bekend gemaak.

21:11 Godspraak oor Duma. Daar roep een my toe van Seïr af: Wagter, hoe ver is dit in die nag? Wagter, hoe ver in die nag?

21:12 Die wagter sê: Die môre kom, en ook die nag. Wil julle vra, vra; keer terug, kom.

21:13 Godspraak teen Arabië. In die bos in Arabië moet julle vernag, karavane van die Dedaniete!

21:14 Bring vir die dorstige water tegemoet! Die inwoners van die land Tema het die vlugteling met brood teëgekom.

21:15 Want hulle het gevlug vir swaarde, vir die swaard wat uitgetrek en vir die boog wat gespan is, en vir die druk van die oorlog.

21:16 Want so het die Here vir my gesê: Binne 'n jaar--soos die jare van 'n dagloner--sal al die heerlikheid van Kedar verdwyn.

21:17 En wat oorbly van die getal boë van die Kedareense helde, sal min wees; want die HERE, die God van Israel, het dit gespreek.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase