Index: Afrikaans

 

Joshua 18

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24]

18:1 Daarop het die hele vergadering van die kinders van Israel in Silo byeengekom en daar die tent van samekoms opgeslaan, aangesien die land voor hulle onderwerp was.

18:2 Maar daar was onder die kinders van Israel nog sewe stamme oor wie se erfenis hulle nie verdeel het nie.

18:3 Toe sê Josua aan die kinders van Israel: Hoe lank sal julle jul so traag hou om die land in besit te gaan neem wat die HERE, die God van julle vaders, aan julle gegee het?

18:4 Bring tot drie man uit elke stam, dat ek hulle kan uitstuur, en dat hulle kan klaarmaak en die land deurgaan en dit beskrywe met die oog op hulle erfdeel; dan moet hulle na my toe kom

18:5 en dit onder mekaar in sewe dele verdeel: Juda moet sy gebied in die suide behou, en die huis van Josef moet sy gebied in die noorde behou.

18:6 Maar julle moet die land in sewe dele beskrywe en die beskrywing hier na my toe bring; dan sal ek vir julle die lot werp, hier voor die aangesig van die HERE onse God.

18:7 Want die Leviete het geen aandeel onder julle nie, omdat die priesterskap van die HERE hulle erfdeel is; en Gad en Ruben en die halwe stam van Manasse het hulle erfdeel ontvang oorkant die Jordaan in die ooste, wat Moses, die kneg van die HERE, hulle gegee het.

18:8 Die manne het toe klaargemaak en gegaan; en by hulle vertrek het Josua hulle bevel gegee om die land te beskrywe, met die woorde: Gaan heen, trek rond in die land en beskrywe dit, en kom na my terug; dan sal ek hier vir julle die lot werp voor die aangesig van die HERE in Silo.

18:9 En die manne het gegaan en die land deurgetrek en dit in 'n boek beskrywe, volgens die stede, in sewe dele, en na Josua gekom in die laer van Silo.

18:10 Toe het Josua vir hulle die lot gewerp in Silo, voor die aangesig van die HERE; en Josua het die land daar onder die kinders van Israel verdeel volgens hulle afdelings.

18:11 En die lot het opgekom van die stam van die kinders van Benjamin volgens hulle geslagte; en die gebied wat vir hulle deur die lot aangewys is, het uitgekom tussen die kinders van Juda en die kinders van Josef;

18:12 en hulle lyn aan die noordekant was: van die Jordaan af; dan loop die lyn op na die noordelike hang van Jérigo, en dit loop op in die gebergte in westelike rigting en loop dood by die woestyn van Bet-Awen;

18:13 en daarvandaan loop die lyn oor na Lus, na die suidelike hang van Lus, dit is Bet-el; verder loop die lyn af na Atrot-Addar, op die gebergte wat suid lê van Bet-Horon-Onder;

18:14 dan buig die lyn om en swaai na die westekant, teen suid, van die gebergte wat suid teenoor Bet-Horon lê; verder loop dit dood by Kirjat-Baäl, dit is Kirjat-Jeárim, die stad van die kinders van Juda; dit is die westekant;

18:15 en die suidekant begin by die uiteinde van Kirjat-Jeárim; en die lyn loop aan in die weste en dan na die waterfontein van Neftóag;

18:16 dan loop die lyn af na die uiteinde van die berg wat teenoor die dal Ben-Hinnom, noordelik in die dal van die Refaïete lê; dan loop dit af na die dal Hinnom, na die suidelike hang van die Jebusiete, en loop af na die fontein Rogel;

18:17 verder buig dit noord om en loop aan na die fontein Semes; dan loop dit aan na die klipkrale wat teenoor die hoogte van Adúmmim lê, en loop af na die klip van Bohan, die seun van Ruben;

18:18 dan gaan dit oor na die hang teenoor die Araba in noordelike rigting en loop af na die Araba;

18:19 verder loop die lyn oor na die hang van Bet-Hogla in noordelike rigting; dan loop die lyn dood by die noordelike tong van die Soutsee, aan die mond van die Jordaan in die suide; dit is die suidelike lyn;

18:20 en die Jordaan begrens dit aan die oostekant. Dit is die erfdeel van die kinders van Benjamin na hulle geslagte, volgens sy lyne rondom.

18:21 En die stede van die stam van die kinders van Benjamin, volgens hulle geslagte, was: Jérigo en Bet-Hogla en Emek-Kesis,

18:22 en Bet-Araba en Semaráim en Bet-el,

18:23 en Haäwim en Para en Ofra,

18:24 en Kefar-Haämmóni en Ofni en Gaba: twaalf stede met hulle dorpe;

18:25 Gíbeon en Rama en Beërot,

18:26 en Mispe en Kefíra en Mosa,

18:27 en Rekem en Jírpeël en Táreala,

18:28 en Sela, Elef en Jebúsi, dit is Jerusalem, Gíbeat, Kirjat: veertien stede met hulle dorpe. Dit is die erfdeel van die kinders van Benjamin volgens hulle geslagte.

 

Created with FREE HTMLCompiler by BibleDatabase